liewe mamma

dear English readers…please accept this post – a letter to my mom – in my mother tongue…

Image

liewe mamma

ek wil een bladsy se dankies skryf – vir sommige staan die tyd stil by een woord, vir ander jaag die tyd om uit te vind wat gebeur op die einde, maar min besef ons het net nou… my nou is hierdie bladsy… soos iemand wat ons ken gesê het – as jy nie wat jy wil sê op een bladsy kan skryf nie, het jy nie meer my aandag nie… my beker loop oor en die bladsy word korter

vir al daardie briefies wat ma deur al die baie trekke in die skoenbokse binne-in die groot boks bêre… dink ma nie dis weer tyd om dit uit te haal en weer te lees nie? (ek weet ma doen dit in elk geval, of in baie gevalle, veral as omstandighede effens gevalle voel) … al die bedoel-gedagtes is vir weer lees, want noudat ma ‘n ‘great-grandmother’ is, en daar te veel moeders tussen-in is, het die briefies minder geraak…

maar nie die gedagtes nie, want al die tussen-in moeders sukkel om die groot-grootmoeder se skoene vol te staan… en dis die gedagtes wat ons aan die gang hou; en die are wat deur ons almal strek, blaas asem met sinapse van lewe – vir mekaar, verbind tot in ewigheid… en as grootmoeder dink ek al hoe meer aan al die moeders voor my – van wie ek gene, vingernaels, harde voete en vasbyt geërf het… en ek dink die ewigheid is nie meer ver nie, dis ‘n hede, ‘n ewige hede

vir al die sagtheid, mooiheid, humor wat ek nog steeds by ma leer… die erf is nog te groot om te spit… en baie onkruid groei saam met die mooi… so ek los dit maar tot alles groot is en ek kan sien wat’s wat en wie’s wie… of eerder tot ek groot is, want grootmoeder of te not, ek voel nog steeds baie dae soos ‘n kind wat met botgesig in haar vol lyf vasgekletter staan…

vir die kindlyf wat ma verstaan het en toe by Weight Watchers aangesluit het en die klein skaaltjie gekoop het om die kos op te weeg… maar ek gee die skuld vir die tannie by die kerk wat sulke lekker koekies gemaak het wat soos eat-some-mor gesmaak het… net jammer die eat-some-mor het sy naam te goed gestand gedoen

vir al die tye wanneer net gortsop die masels en ander skete kon troos (ek vergewe ma dat jy nie heeltemal die masel-gortsop-resep kan onthou nie)… en nou, as ek, of my naby mense siek is en die vertroos by my vashak, soek ek gortsop, en ek hoop my naby mense voel ook die omgee heelword, al is dit nigel slater se herb and barley broth to bring you back to health …

vir al die aande van toevou in ‘n kombers en liedjies van slapie-kan-nie-nie ons vee’s in die kraal… en nou neurie hierdie ouma se kleinste die liedjie saam met ‘n guitige ma-ouma-oumagrootjie-laggie in sy oog…

ek onthou die wye rooi Spaanse dans rok met die swart omboorsels, die swart skoene wat so met voortoon en hak gestamp het, en die kastanjette wat nie tussen my vingers dieselfde mooi klappertjie-klap geluide gemaak het nie… en ek het ma nooit sien spaans dans nie…

maar ek sien ma se oë dans as jy lag en spitsvondig vir iemand ‘n vinnige nie-op-jou-bek-geval antwoord gee…reg om jou sê te sê…of vir pa te wys wie’s wie as julle tafeltennis speel – altyd uitsiende-gereed vir nog ‘n rondte van die lewe

vir al daardie ietse wat ma nimmer-eindigend gereed is om vir iemand te doen – niks is ooit te veel moeite vir ma nie (ek is jammer, maar ek sukkel nog om hierdie skoen vol te staan)… ek weet hoe graag ma net nou die douvoordag nog vir ons spek en eiers wou maak toe ons die lang pad noorde toe vat….en op die ou end (nadat ek jou hande en voorskootbande losgemaak het) vir ons hartjie-toebroodjies ingepak het met ‘n fles vol koffie…hoeveel koppies espresso moes ma een-een gemaak het om die fles vol te kry?

vir al die laat-aand tiekie-boks oproepe van ‘n omgekeerde eerste, tweede, derde en vierde jaar – hoe het ma dit uitgehou? en die toe maar my kind, dit sal ook verby gaan…dit het – en nou – nou gee ek dieselfde antwoord, want dis waar … en die alleen rit van Oudsthoorn na Stellenbosch in die ou kar om die tiekie-boks oproepe te vervang met ‘n omgee lyf en oor wat luister as ek by juicy lucy meer as net wortelsap uitstort

vir die tyd toe ma daar was toe ek ma word vir die eerste keer – vir die tweede keer was ma ook daar….en het ma ma se stukkende gesig al draaiend weggesteek omdat jy oppad van die hospitaal toe in ‘n motorongeluk was en nie vir my wou sê nie…

vir die tyd toe ek ouma word, was ma daar – ouma vir my dogter, oumagrootjie vir haar kleinnood – en toe ma so ewe droog opmerk dat great grandmother beter klink as oumagrootjie… ek het saam gestem, want het ek nie net nou die dag nog gehoor hoe iemand vra of ons susters is nie…?

ek het geweet ek gaan sukkel met een bladsy – so, ek het die ‘font’ kleiner gemaak, want ma kan die woorde vergroot sien op jou ipad (ek weet nie eers hoe werk so ‘n ding nie)…maar ma is een vir bybly: palmtop, laptop, franse lesse, klavierlesse, iphone, ipad, olywe inlê en pryse wen….

…ek sien baie uit na die volgende rondte van ma se lewe….

Advertisements

2 thoughts on “liewe mamma

your thought is a gift

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s